Kollageen het baie gesondheids- en skoonheidsvoordele en kan dalk ook help met gewigsverlies
Wat is kollageen?
Kollageen is die volopste proteïen in jou lyf en is verantwoordelik vir die strukturele integriteit van jou liggaam. Dit skep struktuur binne jou bene, kraakbeen, senings, bindweefsel, spiere en vel. Sonder kollageen is jy net ‘n klomp selle wat deur ‘n paar neurone verbind word.
Soos alle proteïene, bestaan kollageen uit aminosure. Kollageen is geneig om hoog in glisien, prolien en hidroksiprolien te wees. Aminosure het ‘n kettingagtige vorm en die aminosure in kollageen is styf aanmekaar geweef en lyk soos ‘n sterk, gedraaide tou.
Hierdie sterk en stabiele proteïen is ‘n anti-veroudering superster aangesien dit jou vel se elastisiteit verbeter, die voorkoms van plooie verminder en die vog in jou vel verhoog.
Kollageen kan ook:
- Beenverlies verminder
- Bros naels verbeter
- Hare gesondheid bevorder
- Hartgesondheid ondersteun
Kollageenaanvullings
Jou liggaam produseer sy eie kollageen, maar die maak van kollageen neem drasties af soos jy ouer word. Om die hoeveelheid kollageen in jou liggaam ‘n hupstoot te gee, kan jy beenbouillon, hoender of eierwitte eet. Alternatiewelik, kan jy ‘n kollageenaanvulling neem.
Kollageenaanvullings help jou liggaam om meer van die proteïen te produseer. Hierdie aanvullings word gemaak van die bene en weefsels van diere, soos koeie, perde, varke of visse en hulle is beskikbaar in baie vorme soos pille, gomlekkers, poeiers, stroop of in sommige kosse en drankies.
Om seker te maak jou liggaam absorbeer kollageen behoorlik en produseer genoeg van die proteïen, is dit belangrik om genoeg vitamien C in te neem.
Kan kollageen gewigsverlies verbeter?
Daar is nie genoeg navorsing wat bewys dat kollageen goed is vir gewigsverlies nie. Meer navorsing is nodig. Kollageen is nie ‘n towermiddel nie, en sal jou nie op ‘n magiese manier help om vet te verbrand nie. Tog kan die proteïen dalk help om spiere te bou, vetophoping te verminder en jou vinniger versadig laat voel na etes. Anders as dit, kan kollageen jou help om vinniger te herstel ná oefening.
Kollageen help om:
- Spiere te bou
Om baie proteïene te eet, sal jou help om spiere te bou. Spiere verbrand baie kalorieë, selfs wanneer jy rus.
Een 2015-studie het opgemerk dat deelnemers wat kollageenpeptiede geneem het, meer spiere gebou het en meer vet verloor het as diegene wat ‘n placebo geneem het.
Dit is belangrik om daarop te let dat kollageen nie al die aminosure bevat wat jou liggaam nodig het nie – jy kan nie net ander vorme van proteïen vir kollageen uitruil nie.
- Vetophoping te verminder
Sommige bewyse dui daarop dat kollageen die ontwikkeling en ophoping van vetselle kan vertraag.
Kollageen van ʼn kraakbeenagtige vissoort, is in ‘n 2018-dierstudie en ‘n 2019-studie met mense gebruik. Dit het gelyk of muise en mense ‘n bietjie vet verloor het, maar die resultate, veral by mense, was klein.
- Versadig te voel
Omdat kollageen ‘n proteïen is, kan dit jou eetlus onderdruk en jou help om langer versadig te voel. Volgens ‘n 2020-studie verhoog ‘n hoëproteïendieet versadigingshormone en onderdruk dit grelin, ‘n hongerhormoon.
Weereens, dit is belangrik om daarop te let dat kollageen nie al die noodsaaklike aminosure bevat wat jou liggaam nodig het nie en jy kan nie net ander bronne van proteïen met kollageen vervang nie.
- Gewrigspyn te verlig
Kollageen is in die verlede gebruik om gewrigs- en bindweefselbeserings te behandel. As jou gewrigte gesond is, is dit makliker om fisiese oefeninge te doen. As jy meer oefening en ander fisiese aktiwiteite kan doen, kan jy meer gewig verloor.
Sommige studies het bewys dat kollageen kan help met gewrigspyn. ’n Studie van 2017 het bevind dat atlete wat kollageenpeptiede geneem het, minder pyn in hul gewrigte gehad het.
Samevatting
Meer bewyse is nodig om kollageen aan gewigsverlies te koppel. Kollageen kan jou gewig beïnvloed want dit kan jou help om minder te eet aangesien jy gouer versadig voel. Dit kan ook vetophoping verminder en help om spiere te bou. Laastens kan kollageen gewrigspyn verlig wat oefening gemakliker maak.