Vind die beste oefeninge vir jou sodat jy jou beste, gesondste self kan wees.
n Goeie oefeningroetine is belangrik as jy gesond wil leef en noodsaaklik as jy effektief gewig wil verloor. Jou ouderdom, dieet en oefenroetine bepaal meestal hoeveel gewig jy sal verloor.
Aan jou ouderdom kan jy ongelukkig niks doen nie, maar jy kan gesond eet en ‘n goeie oefenroetine volg!
Dit kan tyd neem om die regte oefenroetine te vind, maar as jy met verkillende oefeninge eksperimenteer sal jy met tyd oefeninge vind wat vir jou sal werk.
Dis belangrik dat jy oefening doen wat jy geniet en wat jou help om daardie ekstra gewig af te skud.
Hier is ‘n paar van die beste gewigsverlies-oefeninge om te probeer.
4 oefeninge vir gewigsverlies
-
Draf of hardloop
Om draf en hardloop by jou oefenroetine in te sluit, kan jou vinnig help om daardie ekstra gewig af te skud.
Onlangse navorsing het getoon dat beide draf en hardloop visserale vet, algemeen bekend as maagvet, kan verminder. Om te veel maagvet te hê, kan jou kanse op hartsiektes, tipe 2-diabetes en hoë bloeddruk verhoog.
Die veelsydigheid en gerief van draf en hardloop maak dit ideale oefeninge vir enigiemand wat gewig wil verloor. Jy kan enige plek draf of hardloop en dit maklik in jou weeklikse roetine inkorporeer.
Om te begin, draf vir 20-30 minute, 3-4 keer per week.
As draf of hardloop jou gewrigte seermaak, oorweeg dit om op sagter oppervlaktes soos gras te hardloop of probeer ‘n trapmeule.
-
Hoë-intensiteit oefeninge (HIIT)
HIIT kombineer kort sarsies van intense oefening met periodes van rus of lae-intensiteit oefeninge.
‘n HIIT-roetine op ‘n spinfiets kan, byvoorbeeld, van jou vereis om vir 30 sekondes intens fiets te trap gevolg deur ‘n paar minute van stadige, rustige fietsry.
Jy kan baie kalorieë in ‘n kort tydperk verbrand. HIIT is ‘n uiters tyddoeltreffende manier om relatief vinnig gewig te verloor, aangesien dit net soveel kalorieë kan verbrand as ‘n langer oefensessie.
Om geleidelik oor te skakel na hierdie tipe oefeninge, begin met ‘n laer intensiteit oefening en langer rusperiodes.
Mik om jouself vir ten minste 30 sekondes te druk, gevolg deur ‘n rusperiode van ten minste 60 sekondes.
Begin byvoorbeeld met ‘n ligte hardloop- of drafsessie vir 30 sekondes en loop dan vir 60 tot 90 sekondes. Herhaal hierdie siklus ‘n paar keer.
Voorbeelde van HIIT-oefensessies:
Springtou-intervalle: Gebruik ‘n springtou en spring so vinnig as moontlik vir 30 sekondes, gevolg deur ‘n 15-sekonde rusperiode. Herhaal ‘n paar keer.
Trapoefeninge: Soek ‘n stel trappe of ‘n heuwel en hardloop so vinnig as wat jy kan op, stap of draf dan af om te herstel. Herhaal ‘n paar keer.
Liggaamsgewig HIIT-oefensessie: Doen ‘n paar opstote en optrekke, vat ‘n kort blaaskans en herhaal.
-
Weerstandsoefening
Weerstandsoefening behels fisiese aktiwiteit waarin die spiere ‘n soort gewig of opponerende krag weerstaan om jou spiere harder te laat werk.
Weerstandsoefening is ideaal vir gewigsverlies aangesien dit help om spiermassa te verhoog terwyl algehele liggaamsvet verminder word.
Tradisioneel het mens net aërobiese oefening, soos hardloop en fietsry gedoen om gewig te verloor. Aërobiese oefening is werklik doeltreffend vir gewigsverlies maar ongelukkig sal hierdie oefening veroorsaak dat jy ook spiere verloor.
Deur weerstandsoefening in jou roetine in te sluit kan jy spiermassa behou terwyl jy ook kalorieë verbrand.
Vroue staar unieke gewigsverliesuitdagings in die gesig, maar weerstandsoefening kan werklik help om ekstra gewig af te skud en jy hoef nie bekommerd te wees dat jy te gespierd gaan raak nie.
Jy het nie noodwendig enige toerusting nodig om weerstandsoefening te doen nie. Jy kan jou eie liggaamsgewig gebruik. Jy kan, byvoorbeeld, opstote en optrekke doen wat geen toerusting benodig nie.
-
Nie-oefenaktiwiteite
Nie-oefenaktiwiteite is nie ‘n vorm van oefening nie, maar dit speel ‘n deurslaggewende rol in gewigsverlies. Hierdie is aktiwiteite wat jy daagliks kan doen wat energie gebruik en help met gewigsverlies.
Dit sluit aktiwiteite soos skoonmaak, stap en tuinmaak in.
Hierdie aktiwiteite kan help met gewigsverlies en moontlik die risiko van kardiovaskulêre en metaboliese komplikasies verminder.
Jy kan rondhardloop terwyl jy met ‘n troeteldier speel, die trappe neem in plaas van die hysbak, en hurke (squats) doen terwyl jy jou tande borsel. So kan hierdie daaglikse aktiwiteite jou help om gewig te verloor.
Samevatting
Wees aktief en verloor vandag gewig. Onthou om jou oefenroetine met ‘n gesonde dieet te komplimenteer sodat jy spoedig gewig kan verloor.