Wat is kollageen en hoe bevoordeel dit my gesondheid?
Kollageen word gesien as ‘n superster wat veroudering teëstaan. Baie mense neem kollageen om hul vel jonk en elasties te hou. Maar wat presies is kollageen, hoe beïnvloed hierdie proteïen jou gesondheid en hoe voordelig is kollageenaanvullings?
Wat is kollageen?
Kollageen is die volopste proteïen in jou liggaam. Dit vorm ‘n steier struktuur aan jou liggaam gee. Dit skep struktuur binne jou bene, kraakbeen, senings, bindweefsel, spiere en vel. Sonder kollageen sal jy net ‘n klomp selle wees wat deur ‘n paar neurone verbind word.
Soos alle proteïene, bestaan kollageen uit aminosure. Kollageen is geneig om hoog in glisien, prolien en hidroksiprolien te wees. Aminosure het ‘n kettingagtige vorm en die aminosure in kollageen is styf aanmekaar geweef en lyk soos ‘n sterk, gedraaide tou. Hierdie sterk proteïen verbeter jou gesondheid op baie maniere.
Gesonde kollageenvlakke dra by tot:
- gewrigsgesondheid
- beskerming van die niere en ander organe
- velelastisiteit
- ‘n gesonde kardiovaskulêre stelsel
Jou liggaam produseer natuurlik kollageen, maar soos jy ouer word, neem die produksie drasties af en kollageenvesels word dunner en swakker. Lees verder om uit te vind wat ‘n afname in kollageenproduksie veroorsaak.
Wat veroorsaak ‘n afname in kollageen?
Die volgende faktore kan veroorsaak dat jou liggaam minder kollageen produseer of bydra tot die verswakking van kollageenvesels:
- Hormonale veranderinge as gevolg van swangerskap en menopouse kan veroorsaak dat minder kollageen geproduseer word.
- Veroudering verminder kollageenvlakke. Jou liggaam produseer natuurlik minder kollageen namate jy ouer word.
- Om te veel alkohol te drink, kan veroudering versnel deur kollageenproduksie te verminder.
- Die rook van sigarette kan kollageen afbreek en velveroudering, plooie en verlies aan elastisiteit veroorsaak.
- Ultravioletstrale, van te veel blootstelling aan sonlig, kan veroorsaak dat kollageen in die vel afbreek.
- ’n Dieet hoog in suiker en verwerkte voedsel kan ook laer vlakke van kollageen veroorsaak.
- ‘n Vitamien C-tekort. Hierdie vitamien is nodig vir kollageensintese, lae vlakke van vitamien C kan lei tot verminderde kollageenproduksie.
Kollageen inname
Jou liggaam maak sy eie kollageen. Dit word endogene kollageen genoem.
Om die hoeveelheid kollageen in jou liggaam te verhoog, kan jy beenbouillon, hoender of eierwitte eet.
Jy kan ook sintetiese kollageen neem. Eksogene kollageen kom van ‘n eksterne bron, soos aanvullings. Hierdie aanvullings is beskikbaar in baie vorme soos pille, gomlekkers, poeiers, stroop of in sommige kosse en drankies.
Aanvullings kan help om tekens van veroudering soos plooie en verlies aan velhidrasie te vertraag. Hulle kan ook help met gewrigspyn.
Alhoewel daar nie bewyse is nie, glo sommige mense dat die neem van kollageenaanvullings ook kan help met gewigsverlies.
Dokters gebruik ook kollageen om te help met die behandeling van wonde, brandwonde en diabetiese ulsers.
Die voordele van kollageenaanvullings
Die mees algemene gebruik van kollageenaanvullings is om velgesondheid te verbeter. Baie studies het getoon dat die neem van kollageenaanvullings die vel se elastisiteit kan verbeter en die voorkoms van plooie kan verminder. Die meeste studies meen dat mens 2,5–15 gram kollageen per dag vir 8 weke of langer moet neem.
Kollageenaanvullings kan ook veral voordelig wees vir ouer vroue met verminderde beenmineraaldigtheid. Studies dui daarop dat die neem van kollageenaanvullings oor ‘n langer termyn help om beenmineraaldigtheid te verhoog by mense in postmenopouse, wat ‘n groter risiko loop om osteopenie en osteoporose te ontwikkel. Hierdie aanvullings kan ook help om simptome van osteoartritis te verminder.
Samevatting
Kollageen is ‘n sterk proteïen wat funksioneer soos ‘n steier – dit verskaf struktuur in jou bene, kraakbeen, senings, bindweefsel, spiere en vel. Kollageen hou jou vel en gewrigte elasties. Jou liggaam produseer natuurlik kollageen, maar soos jy ouer word, sal jy minder van die proteïen maak. Die neem van kollageenaanvullings kan jou vel help om elasties te bly en help om jou gewrigte soepel te hou.