Angstigheid is ‘n risikofaktor vir diabetes
Daar is baie faktore wat ‘n rol speel in die ontwikkeling van tipe 2-diabetes. Dit sluit in dieet, oefening, genetika, gewig en selfs jou geslag. Nog ‘n risikofaktor, om nie te ignoreer nie, is stres.
Sedert die 17de eeu het navorsers al na die verband tussen diabetes en stres begin kyk en onlangse studies bevestig hierdie verband. Navorsing uit 2010 berig dat mense wat depressie, angs, stres of ’n kombinasie van hierdie toestande ervaar ’n groter risiko loop om diabetes te ontwikkel.
Dit is nie net emosionele stres wat ‘n risikofaktor is nie – lees verder om meer te leer oor wat stres is, hoe dit jou bloedglukosevlakke beïnvloed en hoe om jou stresvlakke te beheer.
Wat is stres?
Stres is ‘n biologiese reaksie op ‘n potensieel gevaarlike situasie. Wanneer jy so ‘n situasie teëkom, oorstroom jou brein met hormone soos adrenalien en kortisol, wat jou voorberei om te veg of te vlug. Emosionele en fisiese stres veroorsaak stygende bloedsuikervlakke.
Daar is ‘n magdom redes waarom mense emosionele stres ervaar:
- Verhoudings – verskille en konflik met geliefdes
- Persoonlike oortuigings – die bevraagteken van jou persoonlike, godsdienstige of politieke oortuigings
- Emosionele probleme – geestesgesondheidsversteurings soos depressie en angs of probleme om emosies te identifiseer en uit te druk
- Lewensveranderinge – groot lewensveranderinge soos om te verhuis of van werk te verander
- Finansiële probleme – finansiële nood en skuld
- Beroep – streng spertye, lang ure en kantoorpolitiek
- Omgewing – om in ‘n misdaadgeteisterde woonbuurt te bly
- Trauma – ‘n traumatiese gebeurtenis kan langtermyn stres veroorsaak
Jou liggaam sal ook stres ervaar wanneer jy verkoue, griep of infeksie het. Hormone wat siektes beveg, kan jou bloedsuikervlakke laat styg.
Hoe beïnvloed stres tipe 2-diabetes?
Stres kan jou hormone beïnvloed
Kortisol is jou streshormoon en een van sy funksies is om die hoeveelheid glukose in jou bloedstroom te verhoog. As jou kortisolvlakke vir ‘n lang tyd hoog is, sal jy meer geneig wees om gewig op te tel, sukkel om te slaap en lae energievlakke te hê.
As jy oorgewig is, nie die energie het om te oefen nie en sukkel om te slaap, sal jy meer geneig wees om tipe 2-diabetes te ontwikkel.
Langdurige hoë vlakke van adrenalien kan ook ‘n rol speel in die ontwikkeling van diabetes aangesien dit inmeng met die produksie van insulien. Dit is insulien se werk om glukose uit jou bloedstroom na jou selle te neem. As glukose nie na jou selle vervoer word nie, sal dit in jou bloedstroom ophoop.
Stres kan jou gewoontes beïnvloed
Jy kan dalk ongesonde gewoontes ontwikkel om stres te hanteer. Sommige ongesonde gewoontes kan diabetes veroorsaak. Dit sluit in:
- ‘n swak gehalte dieet
- min oefening
- rook
- oormatige alkoholverbruik
Hoe weet ek of my stresvlakke my bloedsuikervlakke laat styg?
As jy wil weet of jou stresvlakke jou bloedsuikervlakke beïnvloed, hou ‘n joernaal om jou bloedsuikervlakke na te gaan. Elke keer as jy jou bloedsuiker toets, gradeer ook jou stresvlak, van 1 tot 10. Jy kan ook neerskryf wat jou stres veroorsaak.
Met verloop van tyd sal jy agterkom of stres jou bloedsuiker beïnvloed. As jy die oorsake van jou stres opgemerk het, sal jy ook maniere kan vind om jou stres beter te hanteer.
Wat moet ek doen as ek stress?
Daar is baie leefstylveranderinge wat jy kan maak om hoë stresvlakke teë te werk.
Sommige hiervan sluit in:
Oefen
As jy aërobiese oefeninge doen, kan jy jou stresvlakke verlaag. Jy kan hardloop, fietsry of dans. Oor die algemeen is dit belangrik om aktief te bly om die ontwikkeling van diabetes teë te werk. Jy hoef nie te oefen tot die punt van uitputting nie – ‘n vinnige stap van 30 minute sal mense met prediabetes help om nie diabetes te ontwikkel nie.
Spandeer tyd saam met geliefdes
Om liefdevolle mense in jou lewe te hê, op wie jy kan staatmaak, is baie belangrik vir jou geestesgesondheid. Spandeer tyd saam met mense wat jy vertrou om jou angs te verminder.
Om tyd voor ‘n skerm deur te bring, kan jou meer angstig maak. Verskeie studies het getoon dat te veel tyd voor jou rekenaar, op jou foon of voor die TV met verhoogde vlakke van stres geassosieer word. Verminder skermtyd en verhoog tyd wat saam met liefdevolle mense spandeer word.
Neem aanvullings
Daar is getoon dat aanvullings soos magnesium, B-vitamiene en L-teanien help om stres te verminder.
Moenie take uitstel nie
Om take uit te stel en dan te skarrel om dinge gedoen te kry, kan stres veroorsaak. Stel realistiese doelwitte en prioritiseer belangrike take.
Verminder jou kafeïen-inname
Kafeïen word in koffie, tee en sjokolade aangetref. Die gebruik van te veel kafeïen kan gevoelens van angs veroorsaak. Mense se sensitiwiteit vir kafeïen verskil, maar dit word aanbeveel om nie meer as 400 mg kafeïen per dag te drink nie, wat gelyk is aan 4–5 koppies koffie. Sommige mense kan meer sensitief wees, daarom is dit belangrik om op te let hoe jou liggaam voel nadat jy kafeïen ingeneem het.
Samevatting
As jy stres beter kan hanteer, kan jy die ontwikkeling van diabetes vertraag. Evalueer jou stresvlakke terwyl jy jou bloedsuikervlaklesing neerskryf om te sien of stres jou bloedsuikervlakke beïnvloed. Jy kan die uitwerking van stres verminder deur jou leefstyl te verander.