Hoe om jou niere gesond te hou as jy diabetes het
Diabetes veroorsaak ‘n magdom probleme soos hart- en bloedvatsiekte, amputasie, blindheid en chroniese niersiekte (diabetiese nefropatie). Chroniese niersiekte is ‘n algemene gesondheidskomplikasie onder mense met diabetes aangesien een uit elke drie diabeteslyers die siekte ontwikkel.
As dit nie behandel word nie, kan chroniese niersiekte tot nierversaking lei. As jou niere ophou werk, sal jy dialise of ‘n nieroorplanting moet kry. Nie alle gevalle van niersiekte eindig met nierversaking nie. Vroeë behandeling kan baie effektief wees en daar is baie leefstylveranderinge wat jy kan maak om die aanvang van hierdie siekte te voorkom.
Wat is chroniese niersiekte?
Jou niere het belangrike verantwoordelikhede. Hulle:
- Verwyder afvalprodukte uit die liggaam
- Balanseer die liggaam se vloeistowwe
- Help om bloeddruk onder beheer te hou
- Hou bene gesond
- Help om rooibloedselle te maak
Mense met niersiekte het beskadigde niere wat nie hul verantwoordelikhede kan uitvoer soos nodig nie. Hierdie skade kan veroorsaak word deur hoë bloedsuikervlakke.
Hoe diabetes my niere beïnvloed:
Jou niere het baie klein bloedvate en hoë bloedsuikervlakke kan veroorsaak dat hierdie vate vernou en verstop raak. Wanneer dit gebeur, sal jou niere sukkel om die bloed wat deurgaan, te filter.
Hoë bloedsuikervlakke kan ook senuweeskade in jou niere veroorsaak. Senuwees dra boodskappe tussen jou brein en ander dele van die liggaam, insluitend jou blaas. Hulle laat weet jou brein weet wanneer jou blaas vol is. As die senuwees in jou blaas beskadig is, voel jy dalk nie wanneer jou blaas vol is nie. Die druk van ‘n vol blaas kan jou niere beskadig.
Jy kan gereelde urienweginfeksies kry as jy vir ‘n lang tyd ‘n vol blaas het. Hierdie bakteriële infeksies beïnvloed die blaas, maar kan ook na die niere versprei.
Hoe weet ek of ek chroniese niersiekte het?
Dit is moeilik om te weet of jy chroniese niersiekte het, want baie mense leef met die siekte sonder enige simptome. Om vas te stel of jy nierskade het, kan jy ‘n urientoets doen.
In die latere stadiums van chroniese niersiekte sal jy van die volgende simptome begin opmerk:
- Verslegtende bloeddrukbeheer
- Swelling van voete, enkels, hande of oë
- Verhoogde behoefte om te urineer
- Verminderde behoefte aan insulien- of diabetesmedisyne
- Verwarring of probleme om te konsentreer
- Kort van asem
- Verloor van eetlus
- Naarheid en opgooi
- Aanhoudende jeuk
- Moegheid
Wat moet ek doen as ek diabetes en nierskade het?
Daar is baie wat jy kan doen om jou niere te help om beter te werk.
Beheer jou bloedsuiker
Die doeltreffendste manier om jou niere te beskerm, is om jou bloedsuikervlakke stabiel te hou. Jy kan jou bloedsuikervlakke verlaag deur dieet, oefening en medikasie.
Beheer jou bloeddruk
Hoë bloeddruk beskadig jou bloedvate, insluitend dié in jou niere. Navorsing dui ook daarop dat hoë bloeddruk medikasie nierskade in alle mense met diabetes kan vertraag, selfs al het jy nie hoë bloeddruk nie.
Behandel urienweginfeksies dadelik
As jy gereeld moet urineer, pyn ervaar wanneer jy urineer of bloed in jou urine het, kan jy ‘n infeksie hê. Behandel infeksies so vinnig as moontlik.
Eet minder proteïene
Navorsers glo dat die eet van minder proteïene nierskade kan vertraag. Dit is egter baie belangrik dat jy genoeg proteïene eet. Praat met jou dokter en ‘n dieetkundige om jou te help om gesonde dieetveranderinge te maak.
Eet minder sout
Om die hoeveelheid sout wat jy eet te beperk, sal jou bloeddruk help reguleer.
Hou jou cholesterol in toom
Deur cholesterol te beheer, kan jy verdere skade aan bloedvate voorkom.
Hou op rook
Rook is ‘n risikofaktor vir diabetiese nefropatie. As jy ‘n roker is, praat met jou dokter oor die regte strategieë om op te hou.
Samevatting
Alhoewel chroniese niersiekte algemeen voorkom onder mense met diabetes, is daar baie wat jy kan doen om nierversaking te voorkom. Die verandering van jou lewenstyl kan nierskade aansienlik vertraag. Die doeltreffendste ding wat jy kan doen, is om jou bloedsuikervlakke te beheer. Om jou bloedsuikervlakke stabiel te hou, sal help dat jou niere langer en doeltreffend kan werk.