Beheer hoë bloedsuikervlakke – kyk uit vir die volgende 15 dinge
Hoë bloedsuikervlakke, ook bekend as hiperglukemie, veroorsaak diabetes en is ook ‘n simptoom van die siekte. Diabetes ontwrig jou daaglikse lewe – jy moet altyd bedag wees op wat jy eet en moet jou bloedsuikervlakke telkemale deur die dag nagaan. Diabetes veroorsaak ook ‘n verskeidenheid ernstige gesondheidskomplikasies wat hart- en bloedvatsiektes, amputasie, blindheid en niersiekte insluit.
Wees op die uitkyk vir die simptome van hoë bloedsuikervlakke om die aanvang van diabetes te stop of die siekte behoorlik te hanteer.
Skommelinge in bloedsuikervlakke is normaal
Ons ervaar almal onstabiele bloedsuikervlakke. Die inname van suiker of enige kos wat hoog op die glukemiese indeks (GI) is, sal jou bloedsuikervlakke laat styg. Binne 45 minute, nadat jy iets met baie suiker geëet het, sal jou bloedsuikervlakke op hul hoogste wees en dan daal dit stadig. Binne twee uur sal hulle weer normaal wees.
Mense met diabetes sukkel om hul bloedsuikervlakke te bestuur, aangesien hulle dit nie kan verlaag nie. Hul bloedsuikervlakke is voortdurend hoog. Dit gebeur omdat hul liggame nie genoeg insulien (‘n hormoon wat deur jou pankreas geproduseer word) maak nie of nie die insulien wat dit maak effektief kan gebruik nie.
Dit is insulien se taak om glukose uit jou bloedstroom na jou selle te vervoer. Wanneer glukose nie by jou selle afgelewer word nie, bou dit in jou bloedstroom op. Dit plaas ‘n geweldige druk op organe en selle en lei tot klomp gesondheidskomplikasies.
Wat is normale bloedsuikervlakke?
Geen towergetal bestaan vir “normale” bloedsuikervlakke nie maar die 2022-standaarde van die American Diabetes Association (ADA) stel riglyne wat deur die mediese industrie gevolg word. Hulle stel voor dat mense wat nie aan diabetes ly nie, bloedsuikervlakke van 99 mg/dL of minder moet hê voor ’n maaltyd en 140 mg/dL of minder ná ’n maaltyd.
Hoe voel dit om hoë bloedsuikervlakke te hê?
Om met hoë bloedsuikervlakke te leef, kan katastrofiese gevolge hê. Wees op die uitkyk vir die volgende simptome van hoë bloedsuikervlakke sodat jy probleme vroegtydig kan behandel.
-
Moegheid
Te veel glukose in jou bloed sal moegheid veroorsaak. Bloed met baie glukose beweeg stadig en selle en organe kry nie genoeg suurstof nie wat jou moeg laat voel. -
Slegte visie
Aanhoudende hoë bloedsuikervlakke veroorsaak dat jou oog se lens swel, en dit beïnvloed jou vermoë om te sien. As dit nie behandel word nie, kan die swelling permanente skade aan jou oë veroorsaak. -
Hoofpyne
Hoofpyne kan vroeë waarskuwings wees dat jou bloedsuikervlakke nie gebalanseerd is nie. Hoofpyne word veroorsaak deur fluktuasies in bloedsuikervlakke. Dit kan wees dat fluktuasies in bloedsuikervlakke sal veroorsaak dat hormone soos epinefrien en norepinefrien ongebalanseerd raak en dit kan hoofpyne veroorsaak. Hierdie hoofpyne neem gewoonlik ‘n paar dae om te ontwikkel en kan ‘n rukkie duur. -
Gereelde badkamer-besoeke
Oortollige suiker sal na jou niere vervoer word. Jou niere sal sukkel om die oorvloedige hoeveelhede glukose te absorbeer en van dit sal in jou blaas beland. Soos die glukose in die urine ingaan, neem dit ander vloeistowwe saam – dit maak jou blaas vinnig vol en jy sal gereeld die badkamer moet besoek. -
Jy voel gereeld dors
Omdat hoë bloedsuiker gereelde urinering veroorsaak, sal jou liggaam meer vloeistowwe benodig. Dorstigheid is jou liggaam se manier om homself teen dehidrasie te beskerm. -
Jy voel gereeld honger
Wanneer jou liggaam sukkel om glukose te absorbeer (dit gebeur wanneer jy diabetes het), kan jou selle nie glukose in energie omskakel nie. Wanneer jou selle nie energie kan produseer nie, sal hulle boodskappe na jou brein stuur wat jou oortuig dat jy honger is. -
Sukkel om te konsentreer
As jy vir ‘n lang tydperk nie hoë bloedsuikervlakke behandel nie, sal dit verskillende organe in jou liggaam negatief beïnvloed. Die deel van jou brein wat verantwoordelik is vir jou geheue, helderheid van denke en vermoë om te konsentreer, kan ook aangetas word wat geheueverlies, verwarring en konsentrasieprobleme veroorsaak. -
Buikpyn
Baie mense met hoë bloedsuikervlakke het gastroparese – ‘n siekte waar jou maag langer vat om leeg te word. Simptome sluit sooibrand, naarheid, braking en ‘n gevoel van versadig in. -
Snye en wonde wat stadig genees
Onbeheerde bloedsuikervlakke kan die genesing van snye en skrape belemmer. Diabetes, wat met hoë bloedsuikervlakke geassosieer word, veroorsaak senuweeskade en beïnvloed bloedsirkulasie, veral in die onderbene en voete, wat genesing kan vertraag omdat daar nie genoeg bloedvloei na die areas is nie. -
Herhalende infeksies
Wanneer infeksies soos konjunktivitis, verkoues, longontsteking, brongitis, gisinfeksies of sinusinfeksies nie met behandeling verdwyn nie of gereeld terugkeer, kan dit as gevolg van hoë bloedsuikervlakke wees. Daar is baie dinge wat jou immuunstelsel aantas, hoë bloedsuikervlakke is een daarvan. -
Jeukerige vel
Beskadigde senuweevesels naby die vel se oppervlak wat deur te veel glukose in die bloed veroorsaak word, kan jou laat jeuk. -
Gevoelloosheid in jou hande en voete
Bloed met baie glukose beweeg stadig en die hoë vlakke van glukose beskadig ook jou bloedvate, wat dit moeilik maak vir bloed om deur jou liggaam te sirkuleer. Bloed vloei nie na en van jou hande en voete soos dit moet nie, wat gevoelloosheid veroorsaak. -
Hoë koors
Omdat hoë bloedsuikervlakke jou immuunstelsel beskadig, kan jy hoë koors kry. -
Hartsiekte
Simptome van hartsiektes kan aanduidings wees van hoë bloedsuikervlakke. As jy pyn en ongemak in jou bors ervaar, kan jou hart sukkel met bloedtoevoer. Wees ook op die uitkyk vir die volgende simptome:- Naarheid
- Maagkrampe
- Sooibrand
- Spysverteringsprobleme
- Duiseligheid
-
Hoë bloeddruk
Verhoogde bloedsuikervlakke veroorsaak dat jou bloedvate meer gereeld saamtrek. Die vernouing van bloedvate veroorsaak dat jou bloedsuiker styg.
Samevatting
Om jou bloedsuikervlakke doeltreffend te bestuur, kan die aanvang van diabetes voorkom of die vordering van die siekte teëwerk. Wees op die uitkyk vir die simptome van hoë bloedsuiker sodat jy die regte behandeling kan kry en diabetes vermy.