Voorkom die vernietigende gevolge van cholesterol deur grens-cholesterol te behandel
Totale cholesterol en grens-cholesterol
Totale cholesterol verwys na die totale hoeveelheid verskillende soorte cholesterol in die bloed. Cholesterol word in die lewer gemaak en is baie belangrik vir die menslike liggaam. Studies het getoon dat ongeveer 20% van die cholesterol in die menslike liggaam afkomstig is van die kos wat ons eet, terwyl die oorblywende 80% in die liggaam geproduseer word.
Grens-cholesterol beteken dat jou totale cholesterol hoër as 200 mg/dL is, maar onder 240 mg/dL is. As jy ‘n lesing van 240 mg/dL of hoër het, het jy hoë cholesterol. Cholesterol is lipiede – dit is vetterige, wasagtige stowwe wat in die liggaam deur die bloedstroom vervoer word.
Die behandeling van cholesterolvlakke is oor die algemeen gebaseer op ‘n persoon se LDL (lae-digtheid lipoproteïene) of slegte cholesterol, en HDL (hoë-digtheid lipoproteïene), of goeie cholesterol.
As jou liggaam nie lipoproteïene kan verwerk nie of sukkel om dit te verwerk, kan die lipoproteïene aan die wande van jou are vassit wat dan kan verhard tot plaak. Die obstruksie wat deur die plaak veroorsaak word, kan lei tot hartsiektes en ander kardiovaskulêre komplikasies.
Wat is LDL en HDL cholesterol en trigliseriede?
LDL-cholesterol:
Soos voorheen genoem, word dit soms na verwys as slegte cholesterol, aangesien dit jou risiko vir kardiovaskulêre siekte verhoog. Oormaat LDL bou in die wande van slagare op en veroorsaak dat inflammatoriese stowwe vrygestel word wat die risiko van ‘n hartaanval verhoog. Hierdie proses word na verwys as aterosklerose.
HDL-cholesterol:
Daar word soms na HDL verwys as goeie cholesterol omdat hierdie proteïene cholesterol van die are wegneem deur dit uit die bloedstroom na die lewer te neem, waarvandaan dit uit die liggaam uitgeskei word.
Trigliseriede:
Trigliseriede is wasagtige lipiede wat in die bloedstroom gevind kan word. Die liggaam gebruik trigliseriede as energie. Die eet van kosse hoog in cholesterol, versadigde vette en transvette, sowel as die drink van alkohol, kan jou trigliseriedevlakke verhoog. Dit kan weereens tot aterosklerose lei.
Ideale cholesterol vlakke
- Totale cholesterol: Ongeveer 150mg/dL
- LDL-cholesterol: Ongeveer 100mg/dL
- HDL-cholesterol: Mans: Ten minste 40 mg/dL | Vroulik: Ten minste 50 mg/dL
- Trigliseriede: Minder as 150mg/dL
Simptome van grens-cholesterol
Daar is gewoonlik geen sigbare simptome vir hoë cholesterol of grens-cholesterol nie.
Die enigste manier om uit te vind of jy hoë cholesterol het, is om ʼn bloedtoets te doen.
Volwassenes kan ten minste elke vyf jaar ‘n bloedtoets doen. Vir mans tussen die ouderdom van 45-65, en vrouens tussen 55 – 65 word daar aanbeveel om ten minste elke twee jaar ‘n toets te doen. Toetse moet jaarliks gedoen word as jy ouer as 65 is.
Hoe om LDL en totale cholesterolvlakke te verminder
Kom ons kyk na maniere om ons cholesterolvlakke te verlaag sodat jy die gevaarlike gesondheidskomplikasies van hoë cholesterol kan vryspring.
Die volgende punte sal verder help met die verlaging van cholesterolvlakke:
- Eet meer vesel: Voedsel wat hoog is in oplosbare vesel, soos hawer en sitrusvrugte, bind aan cholesterol, en help die liggaam om dit na die lewer te vervoer waar dit as afval uit die liggaam verwyder word.
- Omega-3-vetsure: Omega-3-vetsure kan help om trigliseriede vlakke te verlaag en HDL-cholesterolvlakke in die bloedstroom te verhoog.
- Verminder jou rooivleis inname: Rooivleis is oor die algemeen hoog in versadigde vette en cholesterol. As jy rooivleis eet, probeer om vleissnitte te kies, wat minder vet bevat.
- Trek die vel van jou pluimvee af: Deur die vel van die pluimvee of vis wat jy eet te verwyder, kan dit help om die hoeveelheid vet wat jy inneem te verminder. Om jou vleis te bak of te rooster kan ook help om jou inname van versadigde vette te verminder.
- Bly aktief: Vir volwassenes word aanbeveel om daagliks vir 45 minute te oefen. Dit kan ‘n vinnige stappie, swem of fietsry insluit.
- Beperk of vermy alkohol: Oormatige alkohol inname kan beide jou totale trigliseried- en cholesterolvlakke verhoog. Oormatige verbruik kan gedefinieer word as meer as een drankie per dag vir vroue, en meer as twee drankies per dag vir mans.
- Beperk of vermy nikotien produkte: Om sigarette of e-sigarette te rook, kan jou bloedvate beskadig, jou are verhard en jou algehele risiko van hartsiektes verhoog. Om op te hou rook kan jou immuunstelsel ‘n hupstoot gee en jou LDL- en HDL-cholesterolvlakke verbeter.
Samevatting
Hoë cholesterol het ernstige gesondheidskomplikasies. Vra jou dokter om jou totale cholesterolvlakke na te gaan sodat jy weet of jy sekere maatreëls moet tref om jou cholesterol te verlaag. Hou jou cholesterol in toom deur gesond te eet, te oefen en die gebruik van alkohol en nikotien produkte te beperk.