Die micro-organismes in jou derms kan hipertensie beïnvloed.
Hoë bloeddruk (hipertensie) is een van die grootste risikofaktore vir hartsiektes, beroerte, ander kardiovaskulêre siektes en chroniese niersiekte. Hierdie kondisie is aan die toeneem en moet doeltreffend behandel word.
Jy kan hoë bloeddruk behandel deur medikasie en deur gesonde gewoontes te kweek. Tog vind nie almal dat medikasie en veranderinge in leefstyl goed werk nie.
Wetenskaplikes soek nou na ander oorsake van hipertensie sodat hulle die toestand doeltreffend kan behandel. Een van die dinge waarna hulle kyk, is hoe die aktiwiteite in jou derms jou bloeddruk beïnvloed.
Die mikro-organismes wat in jou ingewande woon, staan bekend as jou mikrobioom. Hierdie miljoene klein derm-goggas sluit bakterieë, swamme en virusse in. Daar is byvoorbeeld meer as 1000 spesies bakterieë wat jou ingewande hul tuiste maak. Sommige bakterieë verbeter jou gesondheid (goeie bakterieë) terwyl ander (slegte bakterieë) gesondheidsprobleme kan veroorsaak.
Studies oor dermbakterieë en hoë bloeddruk
‘n Studie in die Microbiome-joernaal het gekyk na die dermbakterieë van mense met ideale, prehipertensiewe (hoë bloeddruk wat nie hoog genoeg is om ‘n diagnose te ontvang nie, maar hoog genoeg is om die risiko te loop van hipertensie in die toekoms) en hipertensiewe bloeddrukvlakke. Hulle het ‘n vermindering in die diversiteit van dermbakterieë gevind by diegene met prehipertensie of hipertensie.
Ander studies is op muise gedoen. Die oorplanting van fekale materiaal van mense met hipertensie in kiemvrye muise het veroorsaak dat die muise hoë bloeddruk ontwikkel het. ‘n Studie van 2019 het fekale materiaal van muise sonder hipertensie in muise met hipertensie oorgeplant. Die gevolg: die muise met hipertensie het nou verlaagde bloeddruk gehad.
Op die oomblik kan wetenskaplikes geen definitiewe gevolgtrekkings maak nie – hoe jou mikrobioom jou gesondheid beïnvloed is ‘n relatiewe nuwe studieveld.
Alhoewel die verband tussen hipertensie en die aktiwiteite in jou derms dalk nie so voor die hand liggend is nie, moet ons in ag neem dat baie dinge wat die risiko van hipertensie verhoog, soos die inname van alkohol en souterige kos, die liggaam deur die spysverteringstelsel binnedring.
Die spysverteringskanaal speel ook ‘n rol in metabolisme, en die produksie van hormone, en is in direkte aanraking met die senuweestelsel en dit kan weer bloeddruk beïnvloed.
Hipertensie en dieet
Om jou dermaktiwiteite te beïnvloed, moet jy kyk na wat jy eet. Om kos te eet wat goeie bakterieë help groei, sal jou algemene gesondheid bevoordeel en kan dalk help met hipertensie.
Eet meer kosse met flavonoïed
Flavonoïed is ‘n plantgebaseerde verbinding wat in vrugte en groente voorkom wat bekend is vir antioksidante eienskappe. Daar word geglo dat die verbinding ‘n wye reeks gesondheidsvoordele het, insluitend die vermindering van inflammasie, die verbetering van hartgesondheid en kan selfs help om kanker te veg.
Die inname van kosse ryk aan flavonoïed kan help om jou sistoliese bloeddruk te verlaag – die “boonste getal” wat die druk van bloed teen slagaarwande tydens ‘n hartklop aandui – aangesien flavonoïed help om ‘n groter verskeidenheid bakterieë in jou ingewande te kweek, soos volgens ‘n studie gepubliseer in Augustus 2021 in die joernaal Hipertensie.
Deelnemers aan die studie het hoofsaaklik bessies, rooiwyn, appels en pere geëet. Ander kosse wat ryk aan flavonoïede is sluit in spinasie, uie, knoffel en donkersjokolade.
Eet meer vesel
Sommige navorsers glo dat kortkettingvetsure, wat deur dermbakterieë geproduseer word terwyl hulle vesel verteer, een van die skakels tussen die derm en hipertensie kan wees. Jou bakterieë produseer kortkettingvetsure en dan word hierdie kortkettingvetsure in jou liggaam opgeneem waar dit baie fisiologiese prosesse, insluitend bloeddruk, beïnvloed.
Om kos propvol vesel te eet, sal nie net jou ingewande help om gesond te bly nie, maar kan ook jou bloeddruk verlaag.
Voedsel hoog in vesel sluit in:
- Hawer
- Peulgewasse (soos boontjies, ertjies en lensies)
- Volgraan (soos bruinrys, springmielies, quinoa en gars)
- Vrugte en groente (soos frambose, artisjokke, appels en broccoli)
- Neute en sade (soos amandels)
Beperk rooivleis
Rooivleis bevat cholien, wat dermmikrobes afbreek na triëtielamien (TMA). Die lewer skakel dit dan om na trimetielamien N-oksied (TMAO), ‘n stof wat arterie-verstoppende plaak help veroorsaak. Die opbou van plaak in jou are kan tot hoë bloeddruk lei. Mense met hoër vlakke van TMAO in hul bloed is meer geneig om ‘n hartaanval of beroerte te kry. Die vermindering van die hoeveelheid rooivleis wat jy eet, kan help om jou risiko van hoë bloeddruk en die gepaardgaande gesondheidskomplikasies te verlaag.
Samevatting
Navorsing oor hoe jou ingewande jou bloeddruk beïnvloed, is steeds aan die gang. Wat jy eet, beïnvloed jou dermgesondheid en kan dalk jou bloeddruk beïnvloed. Om meer flavonoïedryke kosse en vesel te eet en rooivleis te beperk, kan jou mikrobioom beïnvloed en sodoende dalk help op jou bloeddruk te verlaag.