Die klein organismes wat in jou buik leef, beïnvloed hoe goed jy infeksie beveg
Jou dermgesondheid beïnvloed jou immuunstelsel se reaksies. Dit is in jou ingewande, waar jou immuunstelsel in aanraking kom met miljoene klein organismes, soos bakterieë en gifstowwe.
Die hoeveelheid en soort organismes wat in jou derms leef, word bepaal deur die voedingstowwe wat hulle kry. Jy kan inflammasie teëstaan deur die organismes in jou derms goed te voed. Sodoende kan jy siektes soos vetsug, tipe 2-diabetes en hartsiektes voorkom.
Wat leef in jou buik?
Jou derms huisves duisende klein organismes. Hierdie gemeenskap van bakterieë, swamme, virusse en ander mikrobes staan bekend as jou dermmikrobioom.
Die gemeenskap in jou derms is soos ‘n groot stad met inwoners van verskillende rasse en kulture. Daar is byvoorbeeld meer as 1 000 spesies bakterieë wat in jou ingewande woon. In jou dikderm leef die hoogste konsentrasie mikro-organismes op aarde.
Sommige dermbakterieë kan voedsel verteer wat die menslike liggaam self nie kan afbreek nie. In die proses, kan hierdie bakterieë chemikalieë vrystel wat voordelig vir jou gesondheid kan wees maar van die chemikalieë kan jou ook benadeel. Daar is goeie bakterieë en skadelike bakterieë.
Wetenskaplikes dink dat die bakterieë in jou derms ‘n rol speel in die ontwikkeling van prikkelbare dermsindroom en inflammatoriese dermsiekte. Hulle kan ook jou lewer beïnvloed en inflammasie help teweegbring. Wat meer fassinerend is, is dat hulle jou angstig of depressief kan laat voel. Die klein derm-inwoners kan ook bydra tot groot gesondheidsprobleme soos die ontwikkeling van vetsug, tipe 2-diabetes en metaboliese sindroom.
‘n Gesonde dermmikrobioom bevat gewoonlik ‘n verskeidenheid voordelige bakterieë wat help om jou immuunstelsel gesond te hou en so chroniese inflammasie teë te werk.
Wat is inflammasie?
Inflammasie vind plaas wanneer jou immuunstelsel infeksies veg. ‘n Hoe witbloedseltelling is ‘n indikasie van inflammasie.
Daar is twee tipes ontsteking:
1. Akute inflammasie
Vind plaas wanneer jy skielik seerkry. Jy kan jouself sny of kneus en die warmte, swelling en rooiheid rondom die area is boodskappe wat aan die immuunselle deurgegee word sodat hulle die skade kan herstel.
2. Chroniese inflammasie
Vind plaas wanneer jou immuunstelsel oor ‘n lang tydperk infeksies beveg. Chroniese inflammasie kan baie sleg vir jou gesondheid wees, aangesien dit kan lei tot toestande soos diabetes, vetsug en hartsiektes.
Dit lyk of sekere dermbakterieë ‘n rol kan speel in die oorsaak van chroniese inflammasie en die ontwikkeling van hierdie siektes.
Inflammasie en mikrobes
Jou dermgesondheid, immuunstelsel en dieet beïnvloed mekaar. Sekere inflammatoriese bakterieë, soos Collinsella, floreer in jou ingewande wanneer jy baie verfynde koolhidrate eet.
Wanneer baie verfynde koolhidrate geëet word, produseer sommige dermbakterieë ‘n chemikalie genaamd lipopolisakkaried (LPS). Hierdie chemikalie veroorsaak inflammasie wanneer dit in die bloed opgeneem word. Die ontsteking kan chronies word en lei tot vetsug en tipe 2-diabetes.
Om die flora in jou derms stabiel te hou – te verseker dat die populasie van sekere bakterieë nie eksponensieel groei nie – moet jy ‘n verskeidenheid kosse eet. Vandag se Westerse dieet het ‘n beperkte verskeidenheid kosse om van te kies. As jy jou dieet diversifiseer deur meer veselryke kosse en kosse met probiotika in te sluit, kan die verskeidenheid inwoners in jou buik groei.
Een studie het bevind dat mense wat baie vesel geëet het, baie meer diverse inwoners in hul derms gehad het. Verder het die studie gevind dat diegene wat gefermenteerde kosse geëet het, ‘n groot verskeidenheid dermbakterieë gehad het. Hierdie deelnemers het ook merkers van inflammasie in hul liggame verminder.
Wat om te eet
1. Eet prebiotika
Jy kan die groei van voordelige bakterieë aanspoor deur veselryke kosse te eet. Eet heel kosse soos vrugte, groente en volgraan sowel as neute. Jy kan jou dermfloraprofiel binne ‘n paar dae verander net deur baie vesel te eet.
Baie kosse hoog in vesel bevat prebiotika. Prebiotika is soos kunsmis wat voordelige bakterieë help groei.
Voorbeelde van voedsel wat prebiotika bevat:
- Appels
- Artisjokke
- Aspersies
- Piesangs
- Gars
- Bessies
- Kakao
- Lynsaad
- Knoffel
- Groen groente
- Preie
- Peulgewasse (ertjies en boontjies)
- Hawer
- Uie
- Tamaties
- Sojabone
- Koring
Termes om op etikette uit te kyk vir bygevoegde prebiotika:
- Galaktooligosakkariede
- Fruktooligosakkariede
- Oligofruktose
- Sigoreivesel
- Inulien
2. Eet probiotika
Gefermenteerde kosse soos jogurt, kombucha, kefir en suurkool bevat reeds nuttige bakterieë wat kan help om infeksies te voorkom.
Samevatting
Jou immuunstelsel, dermgesondheid en dieet beïnvloed mekaar. As jy ‘n gesonde immuunstelsel en ‘n diverse mikrobioom het, kan jy die ontwikkeling van vetsug en tipe 2-diabetes vermy. Dieet speel ‘n belangrike rol in die diversifisering van jou mikrobioom. Die eet van kosse met baie prebiotika sal die groei van voordelige bakterieë aanspoor. Voedsel met probiotika bevat reeds voordelige bakterieë wat jou immuunstelsel kan help.