Brandende Voete – Oorsake & Behandeling

Brandende Voete – Oorsake & Behandeling

This article is also available in English

Leer meer oor die oorsake van brandende voete sodat jy die regte behandeling kan kry

Pyn as gevolg van brandende voete kan matig wees maar kan ook erge voetpyn teweegbring. Die mees algemene oorsaak van hierdie pyn is senuweeskade wat dikwels deur diabetes veroorsaak word.

Daar is verskeie behandelings aangesien daar talle oorsake van brandende voete is.

 

Oorsake van brandende voete

1. Diabetiese neuropatie

Diabetes word veroorsaak deur hoë bloedsuikervlakke. Wanneer jy hoë bloedsuikervlakke het, kan dit stadigaan bloedvate en senuwees begin beskadig. Beskadigde senuweevesels kan verkeerde boodskappe na die brein stuur – hulle kan, byvoorbeeld, boodskappe van intense pyn na die brein stuur, selfs al is daar geen wond nie. Mense met diabetiese neuropatie kan gevoel in hul voete verloor of ‘n tinteling ervaar. Voete kan ook sensitief wees wanneer jy aan hulle vat of as daar iets aan hulle raak – die geringste aanraking kan ondraaglik voel.

Die mees algemene tipe neuropatie onder diabetes is perifere neuropatie (jou perifere senuweestelsel verbind die senuwees van jou brein en rugmurg, of sentrale senuweestelsel, met die res van jou liggaam). Ongeveer een derde tot die helfte van mense met diabetes het perifere neuropatie, volgens die Nasionale Instituut vir Diabetes en Spysverterings- en Niersiektes. Die mees algemene areas wat deur perifere neuropatie geraak word, is die bene en voete, maar jou arms en hande kan ook aangetas word.

Ander simptome van perifere neuropatie sluit in:
      • Gevoelloosheid of tinteling in jou hande of voete
      • Jy mag dalk voel of jy ‘n stywe sokkie dra
      • Skerp, steekpyne
      • ’n Swaar gevoel in jou bene of arms
      • Oormatige sweet

2. Kleinveselneuropatie

Kleinveselneuropatie kan pyn en ‘n brandende gevoel in jou voete veroorsaak. Miëlienskede is ‘n lagie vet en proteïne wat om jou senuwees vou en dit beskerm. Wanneer hierdie laag beskadig word, lei dit tot kleinveselneuropatie.

3. Alkoholiese neuropatie

Jou perifere senuwees kan beskadig word deur te veel alkohol te drink. Jy sal ‘n tintelende sensasie en pyn in jou ledemate begin voel. Ander simptome sluit in spierswakheid, oormatige sensitiwiteit vir pyn en probleme met loop.

4. Charcot-Marie-Tooth-siekte (CMT)

Charcot-Marie-Tooth-siekte (CMT) is ‘n oorerflike siekte wat die senuwees wat spiere beheer, beskadig. Volgens die Nasionale Instituut vir Neurologiese Afwykings en Beroerte is CMT een van die mees algemene oorgeërfde neurologiese afwykings.

Simptome van CMT begin dikwels in adolosensie, maar volwassenes kan ook simptome ontwikkel. Aanvangsimptome sluit probleme om te loop en hardloop in. Simptome sal mettertyd erger word. CMT veroorsaak swakheid of verlamming in die voete en hande. Spiere sal begin kwyn en jy kan gevoel in jou arms en bene begin verloor. Sommige pasiënte ervaar spierpyne en krampe. Gewrigte kan ook seer en styf voel.

5. Komplekse streekspynsindroom (CRPS)

Komplekse streekspynsindroom (CRPS) vind plaas wanneer jy intense, langdurige pyn ervaar gewoonlik na ‘n besering aan ‘n arm of been. Simptome begin ongeveer ‘n maand na die besering. Mense ervaar ‘n tinteling en ‘n brandende pyn in ledemate. Hulle toon ook ‘n hipersensitiwiteit vir enige pynprikkel. Soms kan veranderinge in velkleur en veltekstuur ook waargeneem word.

6. Eritromelalgie

Eritromelalgie is ‘n seldsame velsiekte. Mense ervaar episodes waar voete, hande, arms of bene rooi word en brand. Hierdie episodes word veroorsaak deur ‘n toename in liggaamstemperatuur. Oefening, die dra van warm klere, warm weer en die eet van warm kosse is voorbeelde van dinge wat jou liggamstemperatuur kan verhoog.

7. Vitamien B-tekort

‘n Gebrek aan vitamien B, veral onder ouer mense, kan senuweeskade veroorsaak wat spierkoördinasieprobleme en ‘n gevoel van brandende voete tot gevolg het. Hierdie probleme spruit uit tekorte aan vitamien B-12, vitamien B-6 en vitamien B-9 (folaat).

8. Hipotireose

‘n Onderaktiewe skildklier veroorsaak hormonale wanbalanse en dit kan ‘n verskeidenheid gesondheidskomplikasies tot gevolg hê – senuweeskade is een daarvan. Terwyl perifere neuropatie algemeen voorkom onder mense met diabetes, kan dit ook die gevolg wees van ‘n onderaktiewe skildklier.

9. Aansteeklike siektes

Sommige siektes soos Lyme-siekte, MIV, sifilis en gordelroos beïnvloed jou senuwees en kan ‘n brandende gevoel in jou voete veroorsaak.

10. Atleetvoet

Atleetvoet – ook genoem tinea pedis – is ‘n aansteeklike swaminfeksie wat die vel op die voete aantas. Die meeste mense jeuk tussen hul tone en op hul voetsole. Ander simptome sluit in blase op die voete, droë vel aan die kante en voetsole en krakende en skilferende vel.

11. Niersiekte

Een van die komplikasies van niersiekte is perifere neuropatie wat ‘n sensasie van brand in die voete veroorsaak. Sowat 10% van mense met niersiekte ervaar brandende voetpyn.

12. Perifere arteriële siekte (PAD)

Perifere arteriële siekte (PAD) is algemeen onder mense met diabetes. Hierdie siekte veroorsaak dat bloedvate vernou. As gevolg van swak bloedsirkulasie, veroorsaak PAD gevoelloosheid, ‘n tinteling of ‘n gevoel van spelde en naalde in jou onderbene of voete. Pyn in die voete kom dikwels voor wanneer jy loop of oefen.

13. Tarsale tonnelsindroom

As die senuwee wat van jou enkel na jou voet loop, herhaaldelik vasgedruk word, kan dit beskadig word en dit veroorsaak tarsale tonnelsindroom. Die herhaalde druk op die senuwee is gewoonlik as gevolg van swelling of besering en lei tot ‘n skerp, skietende pyn in die voet.

14. Blootstelling aan giftige stowwe

Langdurige blootstelling aan skadelike chemikalieë en swaar metale kan lei tot perifere neuropatie. Wees ook op die uitkyk vir medikasie wat jou senuwees kan beskadig. Sommige medisyne vir MIV en epilepsie kan jou senuwees beskadig.

15. Chemoterapie

Dit is nie net MIV- en epilepsie-medikasie wat jou senuwees kan beskadig nie, chemikalieë wat gebruik word om kankerselle dood te maak, kan ook perifere neuropatie veroorsaak.

 

Behandeling vir brandende voete

Daar is baie behandelingsopsies vir brandende voete, aangesien daar verskeie oorsake is.

Soms kan behandeling eenvoudig wees.

  1. As jy ’n vitamientekort het, kan jy ’n aanvulling neem of ’n inspuiting kry om jou vitamien B vlakke te verhoog.
  2. Senuweeskade as gevolg van alkoholisme kan teëgewerk word as jy ophou drink en ’n gebalanseerde dieet volg. In sommige gevalle kan die skade omgekeer word.
  3. Dialise kan nodig wees om gifstowwe te verwyder onder mense met niersiekte.
  4. Skildklieraanvullings kan neuropatie sowel as simptome van brandende voete onder mense met hipotireose omkeer.
  5. Atleetvoet kan behandel word met antifungale medikasie.
  6. As jy diabetes het, kan jy die simptome van perifere neuropatie bestuur deur jou bloedsuikervlakke te beheer. Jy kan dit doen deur medikasie en dieetveranderinge.
  7. Daar is verskeie medikasie wat jou dokter kan voorskryf om te help met senuweepyn.
  8. In gevalle van uiterste pyn beveel sommige dokters senuweestimulasie aan soos:
    • Elektriese senuweestimulasie
    • Magnetiese terapie
    • Laserterapie
    • Ligterapie

Boererate

Vir verligting van die sensasie van brandende voete:

  • Week jou voete in koue water. Koue water kan egter jou vel beskadig as jy eritromelalgie het.
  • Voeg borrie by jou dieet. Borrie bevat curcumin wat kan help om senuweepyn te verlig.
  • Masseer jou voete om bloedvloeisirkulasie te verbeter.

 

Samevatting

Die gevoel van brandende voete kan deur verskeie gesondheidsprobleme veroorsaak word. Sommige behandeling, soos atleetvoet, kan eenvoudig wees. Die meeste gevalle van brandende voete kan toegeskryf word aan senuweeskade en in ‘n aansienlike hoeveelheid gevalle word die skade deur diabetes veroorsaak. As jy diabetes het, is dit belangrik om jou bloedsuikervlakke te beheer. Jy kan ook medikasie spesifiek vir die pyn neem en boererate gebruik om die pyn wat deur brandende voete veroorsaak word, te verlig.

Beheer bloedsuiker met 6 maklike wenke…

 

Manna Burning Feet Gel

Manna Burning Feet Gel help om simptome wat met brandende voete geassosieer word te verlig. Verlig spierspasmas, help om pyn te verlig, anti-allergeen, anti-inflammatories, antisepties, nie-toksies en veroorsaak nie irritasie nie.

 

Manna Burning Feet Gel is beskikbaar by

Print Friendly, PDF & Email

More articles

Leave a Reply